Christen genoeg
Om God roekeloos te vertrou
Welkom Nuusbrief Hy Woon Nie Hier Nie Foto Album Inligting Toelatingsvereistes Kontak Ons

'Moenie laf wees nie - Jesus woon nie hiér nie!'; Rapport, (23/05/2010)

Onlangs lui Dries se telefoon. “Ek het jou nommer gekry deur die stukkie wat u in ’n Engelse dagblad skryf,” sê ’n man wat homself as Nick voorstel. “Kan ons gesels?” vra hy.

’n Paar dae later ontmoet hulle in ’n Pretoriase restaurant. “Eintlik wil ek sakeraad vra,” begin Nick. “Ek’s nie ’n sakeman nie,” skerm Dries. “Ek het gelees wat jy geskryf het in die koerant en gewonder wat my roeping is. “Kan ek net eers my lewensstorie deel?” sê-vra Nick in dieselfde asem. “Asseblief,” antwoord Dries.

“Ek was die afgelope 18 jaar ’n alkoholis en vir die laaste 8 jaar dakloos op straat. In Oktober laas jaar het ’n groot ding met my gebeur toe ek by die Uniegeboue bedel. ’n Man daar het gevra of hy vir my kan bid. Christene wil mos eers vir jou siel bid voordat hulle jou iets gee. Ek het lankal geleer om hartseer te lyk oor my sondes, dan word ek as ’n ‘oorgawe’ afge-tick in hul boeke. As hulle weg is, haal ek maar weer die bottels uit?…”

“Wanneer laas het jy geëet?” onderbreek Dries vir Nick. Hy kyk skaam af. “Drie dae gelede.” Dries bestel steak en tjips vir hulle.

“Die man bid toe vir my, maar hy bid verkeerd,” gaan Nick voort. “Ek was dronk, maar ek kon hoor hy bid die Here moet my genees van depressie.” Toe sê ek vir hom: “U’t verkeerd gebid. Maar hy het net geglimlag en is daar weg.

“Die volgende oggend toe ek wakker word, was die dranklus weg?…? die shakes ook. Vir die eerste keer in 18 jaar het ek daardie aand gaan slaap sonder drank. Ek kon weer nugter dink. En ek het diep gedink?… oor myself en oor God. Toe het ek gekies om die Here met my hele lewe te dien. Nee, Christus het mý eintlik gevind! “Ek het ook besluit om op te hou bedel. Maar as jy nie bedel nie, ly jy honger. Karre was en gras sny was al manier om te oorleef. Vaste werk is daar nie, veral nie as jy ’n bruin mens is nie. Ons is maar min in Pretoria. Swart mense vertrou jou nie, wit mense ook nie,” het Nick voortgegaan.

Tussendeur vertel Nick hoe hy daagliks die staatsbiblioteek besoek het om die Bybel te lees en werk in koerante te soek. Daar het hy op die stukkie afgekom wat Dries geskryf het.

“Het jy al by ’n kerk aangeklop?” vra Dries tussendeur. Nick antwoord vinnig: “Party kerke het heinings om. Jy kan nie inkom nie. As jy egter gelukkig genoeg is, gee hulle jou kos en klere as deel van ’n ‘formal outreach’.

By een kerk het ’n dame my gevra: ‘Soek jy kos?’ ‘Nee, net raad,’ antwoord ek. ‘Bedoel jy berading’ ‘Nee, raad.’ ‘Hier’s niemand wat jou kan raad gee nie!’ het sy geantwoord. “Voordat ek kon dink, sê ek: ‘Kan ek dan met Jesus praat?’ “Vies antwoord die vrou: ‘Moenie laf wees nie! Hy’s nie hier nie?…’

“Toe ek daar wegstap, besef ek sy’s reg. Jesus is nie daar nie,” gaan Nick voort.

“Nick, hoekom dink jy ek kan jou help?” vra Dries.

Glimlaggend antwoord hy: “Op straat het ons ’n roetine gevolg. Net voor seweuur saans het iemand die radio aangesit. Dan luister ons nuus en na die dominee van die ‘e-kerk’ se aand-oordenking. Dikwels bespreek ons dit tussen die gedrinkery deur, totdat die drank wen. Ons het gewonder oor daai kerk. Toe sê iemand een aand dis nie ’n regtige kerk nie, dis ’n internetkerk. “Dries, ek weet nie hoe ’n internetkerk werk nie, maar toe ek jou stukkie in die koerant lees, sien ek ‘e-kerk’ staan langs jou naam. “Toe dink ek as dit ’n kerk sonder geboue is, is dit dalk sonder tralies. Ek hoop jy sal vir my tyd hê!”

Dries het daardie dag baie meer gedoen as raad gee. Hy het sy hart en huis oopgestel vir Nick, wat in daardie stadium nog in die Uniegeboue se tuin geslaap het. Van daardie aand af het Nick by Dries-hulle ingetrek totdat ’n blyplekkie later vir hom gevind is. ’n Werksopsie in die Kaap het intussen ook oopgegaan. Dries en Nick se vriendskap is nie eenrigting-verkeer nie. By Nick het Dries-hulle wysheid en ’n nuwe liefde vir die Here herontdek. Op sy beurt was Nick verstom dat iemand hom blindelings vertrou.

Om ’n wildvreemde van die straat af in jou huis in te neem, maak nie sin nie. Maar dis hier waar die mooiheid van Jesus se andersoortige evangelie klop wanneer twee mense spontaan ontdek dat mensgemaakte grense soos kleur en status onbelangrik is.

Hoe meer ek sulke stil-mooi verhale soos hierdie beleef, hoe minder smaak het ek vir formalistiese godsdienstigheid. Ek sien Jesus se voetspore juis raak by iemand soos Nick wat radikaal van lewenskoers verander. En ek sien Sy vingerafdrukke op mense soos Dries-hulle wat hul lewens oopstel vir vreemdelinge en wat geruisloos kleurgrense oorbrug. Ek wil graag by sulke mense leer, eerder as om tyd tussen strydende ortodokse brigades te verwyl.